Annelise Willems
Wim en Francia Morris en hul drie kinders is fietsryers. Wanneer mens met Francia en haar kinders gesels, is dit duidelik dat hulle fiets ry omdat hulle dit geniet. Mamma Francia sê sy ry al fiets van sy ‘n kind was. Haar kinders het sy ook op fietse groot gemaak. Sy het dikwels met een, of selfs twee kinders op haar fiets gery deur Stellenbosch. Soms was dit om een van die kinders te begelei skool toe, of andersins net om die kleuters by die skool te kry.
Francia het verskillende fietse. Sy het ‘n ou Trek-bergfiets wat dateer van haar man Wim se studentedae. Dit is haar “dorpfiets”. Dié fiets is al sowat 20 jaar oud. Sy het ook ‘n lekker bergfiets vir in die veld ry.
As mens Francia vra hoekom sy fiets ry, is haar antwoord gou dat sy ry vir haar plesier. As kind het dit vir haar vryheid en onafhanklikheid gegee. Sy kon op haar eie rondbeweeg en by maats uitkom. Nou is dit vir haar heerlik om te sien hoe haar kinders dieselfde dinge as sy geniet. Hulle hou daarvan om fiets te ry in die natuur, en dit gee vir hulle as gesin tyd om saam te wees.
Hoe het Francia haar kinders padveilig gemaak? Sy voel sterk dat kinders nie net gelos kan word op Stellenbosch om self hul weg op fietse te vind nie. Hulle moet geleidelik geleer word. Haar kinders het eers saam met haar op haar fiets gery. Daarna het sy die kinders begelei na waar hulle moes gaan. Sy en Wim het hul kinders die betekenis van padtekens geleer. Só het die kinders deur hul ouers se voorbeeld geleer hoe die verkeer en padreëls werk.
Hulle sorg dat hul kinders goed sigbaar is. Dis ook veiliger vir jong kinders om in groepe saam met ‘n volwassene te ry totdat hulle paaie en die padtekens ken. Nadat Cebella (10 jaar oud ) die pad skool toe leer ken het, het haar ouers agter haar aan gery tot by die skool met hul motor. Sy mag eers aan die einde van haar laerskoolloopbaan alleen fiets ry skool toe. Dit is iets waarna hierdie pragtige dogtertjie baie uitsien.
Dinge wat vir die jong fietsryers moeilik is, is onderbroke sypaadjies met geen op- of afryplek vir fietse nie, asook voertuie wat die snelheidsgrens oortree en jaag in nou strate waar daar nie veilige sypaadjies vir fietsryers is nie.
Cebella (10 jaar oud) , Jeffrey (8 jaar oud) en Alettie (6 jaar oud ) het al drie hul eie redes hoekom hulle van fietsry hou. Cebella sê sy ry vir die lekkerte en sy raak nie so moeg soos wanneer sy stap nie. Jeffrey hou daarvan om voor die familie of sy maats uit te ry en ruwe paadjies aan te durf. Alettie hou ook daarvan om vooruit te ry. Selfs ‘n harde val van die smal sypaadjie af in Noordwal-Oos het haar nie afgeskrik nie.
Die gesin het pragtige foto’s van fietsry-uitstappies en hou daarvan om hul kinderpartytjies te hou langs die Eersterivier of in die veld. Al hul maats moet eenvoudig met hul fietse saamry sulke tye.
Francia is dankbaar dat die dorp al meer fietsryers in ag neem. Baie het al verbeter ten opsigte van gemak en veiligheid vir fietsryers. Dit is vir haar heerlik dat fietsryers nie na parkering hoef te soek of soos motorbestuurders in lang rye hoef te wag nie. Sy sal ook daarvan hou as dorps- en bergfietsryers hul fietsklokkies gebruik om voetgangers te waarsku wanneer hulle hul nader.
Dankie Francia en jou kinders vir jul tyd om oor fiets ry te gesels. Veilig ry!