Fietsportret: Shany van den Berg (kunstenares)

 

  1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

So om en by nege jaar.

  1. Hoe het dit jou lewe verander?

Fietsry is vinnige vervoer in Stellenbosch, boonop het ek geen parkeerprobleme nie en dis mos baie lekker.

  1. Hoe ver ry jy elke dag?

Dit is moeilik om te sê, maar ek ry minstens twee tot drie keer per dag, soos na die “gym”. Ek  koop ook my kruideniersware, net genoeg vir my  koelsak en  my aanknipsak, asook hout, ensovoorts (onthou rekke is belangrik !)

  1. Vertel ons meer van jou fiets

Ek het n Giant-opvoufiets en hy gaan oral saam met my,  selfs Kaap toe vir ontspanning op die Promenade en nou onlangs  na die KKNK waar ek ‘n uitstalling gehad het en maklik tussen “shows” kon rond beweeg het.

  1. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

As jy twyfel of jy op die pad kan ry, ry eerder op die sypaadjie met die hand op die klokkie en oorweeg definitief  ‘n heerlike en gerieflike aanknipsak  op die rooster

  1. Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Waar moontlik, het ons meer  fietsrybane en genoeg veilige fietsrakke nodig. Hierdie  fiets is nou al my derde fiets in nege jaar. Ja, my fietse word graag gesteel, maar nou het ek ‘n dik ketting!

Fietsportret: Annalise Willems (59)

  1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Ek het as kind van negejarige ouderdom na die ou Laerskool Bloemhof fiets gery en later na Hoërskool Bloemhof. Dit was van ons lekkerste kuier- en geselstye daardie…bondels vrolike kinders na en van die skole. Later het ons in Die Boord gewoon en het ek gereeld met my kinders op hul fietse oor die groot Boord/Strandpad-kruising gery skole en Spar toe. Van ons lekkerste familieritte was aan die linkeroewer van die Eersterivier tot by Jonkershoek se hek, en dan met die pad langs terug. Vir die uitstappies is kleintjies op klein fietsies en babas op fietsstoeltjies almal in die vallei op. Vandag is daardie pad ongelukkig gesluit. Nou woon ons weer in die middedorp en gaan ek na die meeste plekke in die dorp met my fiets. Ek het sakke aan my fiets, en ‘n mandjie en kan verbasend baie inkopies in daardie sakke laai. Ek hoef  nooit vir parkeerplek te soek nie. Dis heerlik!

 2.   Hoe het dit my lewe verander?

Ek kan baie gouer dorp toe vlieg verby lang toue motors. Ek hoef nooit kwaad te word vir te min parkering en parkeerassistente nie. Ek parkeer reg waar ek wil wees. Dis gesonder om fiets te ry. Jy kry oefening en het tyd om rond te kyk terwyl jy ry!

3.    Hoe ver ry jy elke dag?

Ek ry nie ver nie. Altans nie as ek vir “besigheid’ moet dorp toe ry nie. Maar dis vinniger as stap en baie makliker as motorry. Ek en my man hou wel ook daarvan om met die fiets vir oefening rond te ry en geniet al die wonderlike fietspaaie wat nou oral hier om ons dorp is. 

4. Vertel ons meer van jou fiets

My fietse: my dorpfiets is my ou damefiets. “Sy” is seker omtrent 70 jaar oud en het behoort aan ‘n familielid van ons van België. Sy is ‘n Raleigh en weeg ‘n ton. As ek op haar ry,  voel ek soos ‘n koningin. Ek sit kiertsregop. Ek het ook ‘n fiets wat ek by een van my kinders se vriende gekry het. Dis my veldry-fiets. Op daardie fiets voel ek weer soos ‘n kind, al ry ek so stadig op die klein paadjies soos ‘n verkleurmannetjie. 

5. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Mense wat wil fiets ry werk toe,  moet dit net doen. Moenie wag vir beter weer of beter fietspaaie nie. Moenie jou blind staar teen die pryse van nuwe fietse nie. Ek het my enigste nuwe fiets gekry toe ek nege jaar oud was. Daardie fiets was gesteel toe ek omtrent 14 was. Daarna was ek nog nooit weer sonder ‘n fiets nie, maar hulle is altyd tweedehandse fietse wat goed gebruik en opgepas is en hulle werk wonderlik. So kry ‘n fiets, klim op en ry. 

6.  Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Die dorp is wel besig om meer fietsry-vriendelik te raak. Dit sal wonderlik wees as toestande vir fietsryers wel nog kan verbeter. In België word fietse toegelaat om na twee kante te ry in eenrigting-strate. Daar is wel duidelike padtekens wat dit wys. Hier sou dit wonderlik wees as fietse voorlopig op sypaadjies kon ry. Voetgangers moet natuurlik voorkeur kry. Ook nie alle sypaadjies is geskik vir hierdie dubbele “verkeer” nie. Ek vind wel dat motoriste meer bedagsaam teenoor fietse is hier in Stellenbosch en hoop dié gesindheid verbeter steeds sodat ons kinders weer in groter getalle kan fietsry skool toe, en almal op fietse nog meer gemaklik sal voel om die pad te vat. Moet asseblief nie ophou beplan aan veiliger en geriefliker fietspaaie nie!

Vumile Yali (tuinier, 51)

 

  1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk toe?

Ek ry al baie jare van Kayamandi dorp toe en terug

  1. Hoe het dit jou lewe verander?

Fietsry hou my gesond, keer dat ek oud voel

  1.  Hoe ver ry jy elke dag?

Ek ry sowat 12 km dorp toe en terug. Vroeër jare het ek tot by Muldersvlei gery waar ek op ‘n hoenderplaas gewerk het. Dit was veel makliker om fiets te ry soontoe as met die trein

  1. Vertel ons meer van jou fiets

Dis ‘n Scott Adventure-bergfiets, ry gemaklik, en ek maak hom self reg as iets verkeerd gaan

  1. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Moenie lui wees nie, selfs wanneer dit reën, ry fiets en kry oefening

  1. Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Taxis en motors ry te maklik voor jou in, en wys geen respek vir fietsryers nie. Die musiek in motors kan hard en hinderlik wees. Jong mense jaag ook soms deur ‘n rooi robot en sien nie altyd fietsryers raak nie.