Fietsportret: Mieke Thilo (arbeidsterapeut)

Vandat ek kan onthou,  ry ek al fiets. Wat ‘n bevryding om net die wiele te laat draai, ‘n lekker bries deur die hare te voel en verby al die motors te kan flits in die sonlig na ‘n mens se bestemming toe. 

As kind en tiener was fietsry skool toe soms vir my lastig, want die sykouse het dikwels vasgehaak êrens en my skool rok gewapper in die wind. Nietemin het dit my nie afgesit nie, ek was steeds een van die min meisies wat skool toe fiets gery het. Meestal was ek al amper tuis en in die swembad teen die tyd dat sommige maats se mammas eers opgedaag het om hulle per motor op te laai. 

Tydens my studentejare aan die Universiteit van Stellenbosch het ek die fietsry terdeë geniet. Stellenbosch is ideaal vir die fiets, omdat dit so lekker plat en boomryk is. 

Later toe ek werksaam was in Kaapstad het my rooi Du Toit-fiets my geliefkoosde vervoermiddel geword. Teen die berg af werk toe in 10 minute het ek lekker vars en vroeg by die werk aangekom. Vroegoggend deur die Kompanjiestuin is die lug gevul met lippe aflekgeure van croissants en vars koffie. My bestuurder by my werk was ten gunste van fiets-pendel, gevolglik het ons ons fietse binne-in die gebou parkeer. Die Kaapse suidoos het my soms gelooi oppad huistoe, maar ek het altyd gevoel dat al die dag se uitdagings en probleme sommer van my af waai voor ek my voete by my voordeur insit. Die fiets het my ook die vryheid gegee om die druk stadsverkeer te klop  om te gaan swem in Seepunt.  Soms het ek my  fiets op die My-City bus gelaai as die kwik in die hoe dertigs klim tot bo op Kloofnek, om  anderkant weer  af te seil na die koue waters van die Atlantiese oseaan. 

Tans woon ek in die fietsparadys van Nederland by Weesp, net suid van Amsterdam. Soms gaan al die kilometerslange fietspaaie my verstand te bowe. Die fiets-infrastruktuur hier is werklik uit die boonste rakke. Ek ry daagliks fiets op my eie of met een of twee van my kinders, onderneem fiets-familie-uitstappies, of ‘n vinnige ritjie Amsterdam toe. Soms as dit 4 grade is (dikwels) en ek is knus in die huis, moet ek soek vir innerlike motivering om nie met die kar/trein/voet die tog aan te durf nie. Ek neem 99 persent van die tyd my fiets en is nooit spyt nie. Fietsry maak my gelukkig! 

Die drie hoof-voordele van fietsry hier teenoor in Stellenbosch is: 

  1. Die fiets word heeltemal uit die hoofstroom-verkeer verwyder in Nederland. Motors en fietse bly ‘n gevaarlike kombinasie en in Kaapstad het ek ‘n paar noue ontkomings gehad met ongeduldige bestuurders. In Nederland is die fiets-infrastruktuur van so ‘n aard dat mens orals omtrent op ‘n fietspad is met ‘n 1m-skouer van gras/sypaadjie tussen die fietsryer en die motorverkeer. 
  2. Al die verkeersligte is aangepas met ‘n fietsteken. Wanneer mens die knoppie druk, word die lig binne sekondes rooi vir karre en groen vir die fiets. Sulke klein aanpassings verkort die fietspendelaar se tog en maak die motorbestuurder s’n effe langer. Stellenbosch sal kan baat hierby en natuurlik ook by meer fiets-spesifieke paadjies. 
  3. Hier in Nederland is ‘n elektriese fiets-ontploffing. Ek was voorheen onder ‘n wan-indruk dat almal in Nederland fietsry en topfiks is. Dit is ongelooflik hoe die efiets mense meer opsies gee vir langer togte, sowel as bejaardes langer die geleentheid bied om per fiets hul bestemming te bereik. Beslis tog steeds lekkerder en gesonder as enige alternatiewe! 

1.       Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Vandat ek kan onthou:  skool, universiteit, werk en dorp toe. 

2.       Hoe het dit jou lewe verander?

Minder pad-frustrasie, beter fisieke kondisie (fiksheid), meer dikwels effens gesweet (!), maar met ‘n glimlag op my gesig

3.       Hoe ver ry jy elke dag?

Seker gemiddeld so 5 km

4.       Vertel ons meer van jou fiets

Ek het tans ‘n Gazelle-damesfiets waarop ek lekker regop kan sit. Ek moes die fiets uit noodsaak kry toe ek hoog swanger was en nie meer my been oor my bergfiets se saal kon swaai nie. 

5.       Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Geniet dit! Dis fantasties! Belê in goeie beligting vir jou fiets en ‘n helder kopflits vir die winter. Probeer altyd fietsry by die werk bevorder deur aansoek te doen vir storte en veilige fietsparkering by die kantoor. 

6.       Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

  • Reeds hierbo beantwoord. 
  • Goeie veilige fiets-infrastruktuur in  veral informele behuisingsgebiede,, byvoorbeeld vanaf Kayamandi, en dan ook van al die buitewyke van die dorp , byvoorbeeld Cloetesville/Welgevonden, na die middedorp is noodsaaklik. 

Fietsportret: Marike van der Watt (PhD-student)


1.       Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Ongelukkig nog nie lank genoeg nie, en dit het ‘n Belgiese draai gekos om my by hierdie punt te kry. In 2018 het ek en my gesin in Leuven gewoon vir navorsing, en danksy die goeie openbare vervoer het ons besluit om die jaar karloos deur te sien. In Leuven het ons slegs twee kilometer van die stasie af gewoon en 600m van die naaste winkels af, maar ná ‘n ruk raak die gestap stasie of kampus toe ‘n berg, en ek was dankbaar toe ‘n vriend sy plooifiets vir my aangebied het waarmee ek my reistyd aansienlik kon verkort. Die fiets is toe ook gerieflik ingespan vir inkopietogte, want jou mandjie kruideniersware raak gou ‘n ton as jy moet terugstap huis toe. By ons terugkeer na Stellenbosch het ons besluit om ons fietsrygewoontes so veel as moontlik voort te sit. Stellenbosch is meer uitgespreid as Leuven (en dis nie so plat nie!), maar ek geniet dit om met my fiets te ry en kan nie glo dat ek voorheen so vinnig in die kar gespring het vir kort afstande nie.

2.       Hoe het dit jou lewe verander?

As ek met my fiets ry, hoef ek nooit soos die Israeliete sewe dae om Jerigo se mure te trek en op ramshorings te blaas voor ek gelukkig genoeg is om ‘n parkeerplek in die dorp te kry nie. Ek kan my fiets orals gratis parkeer en  by my departement (in die Lettere-gebou op die kampus) boonop in ‘n fietsloods agter slot en grendel. Dit is seker die mees voor die hand liggende kwaliteite van my fietsryery. 

Ek het ook besef ek koop regtig baie meer oordeelkundig as ek vinnig by die winkel stop op pad terug huis toe: daar is net soveel plek in my fietsmandjie, en my rugsak kan nie oorlaai word nie. Gevolglik ek dink twee maal voor ek  iets koop. 

In spitsverkeer ry ek teen my gewone spoed terug huis toe en kom waarskynlik vroeër by die huis as wanneer ek met die kar sou ry. 

As ‘n ma sorg my fiets ook vir groter vryheid, en dit is miskien die ingrypendste verandering wat ons nog nie behoorlik omhels het nie. Voorheen was dit te maklik vir die kinders om ‘n rit hierheen of daarheen te versoek, maar nou lag ek in my mou as ek laat weet ek is met my fiets in die dorp. Ons kinders word dus ook gedwing om meer fiets te ry en self meer onafhanklik te wees. Dit is ongelukkig nie altyd moontlik nie. In die wintermaande was dit maar donker Bloemhof toe in die oggende en ‘n tjello of viool saam met ‘n yslike skooltas gaan nie goed werk op ons paaie nie!

3.       Hoe ver ry jy elke dag?

As ek kantoor toe en terug ry is dit net meer as ses kilometer, maar soms moet ek ander draaie in die dorp ook ry wat die afstand bietjie rek. Dit wissel tussen 80-100 km per maand.

4.       Vertel ons meer van jou fiets

My fiets verdien eintlik ‘n storie! In ‘n terloopse gesprek met Patricia Botha het sy my vertel van haar man, Dawid Botha, se stokperdjie om ou fietse te restoureer. Hy het my genooi om te gaan kyk na sy fietse, maar nie een van hulle het (volgens hom) by my gepas nie. Uiteindelik het hy laat weet dat hy iets vir my opgespoor het: ‘n ou KTM uit Oostenryk wat hy met soveel liefde gerestoureer het dat ek byna te bang was om daarmee te gaan ry omdat daar stof op sou kom! Dit is ‘n dorpsfiets, en dit het aanvanklik vreemd gevoel om so laag en regop te sit as ek ry, heeltemal anders as die bergfietse waaraan ek gewoond was. Maar nou is dit vir my baie gemakliker as laasgenoemde.

5.       Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Belê in ‘n goedkoop dorpsfiets:  verminder die kanse dat dit gesteel sal word. 

Toets maar die verskillende paaie en roetes dorp toe. Sommige is meer fietsvriendelik as ander. Merrimanlaan is byvoorbeeld effens korter vir my, maar dit voel baie veiliger om in Victoriastraat te ry. 

Gebruik duidelike handseine om jou intensies aan te dui. Maar selfs dan moet jy steeds sorg dat motoriste dit gesien het en vir jou toelating maak. Ongelukkig is ons motoriste nog nie so op fietsryers ingestel nie. Hopelik sal dit verander as meer mense begin fietsry, die voordele daarvan besef, asook hoe blootgestel ‘n fietsryer is! 

6.       Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Ek sou graag wou sien dat daar elke 400-500 meter spesifieke sones geskep word waar taxi’s, Ubers en gewone motoriste kan stop om passasiers op en af te laai. Sodoende is fietsryers bewus daarvan en word jou lewe nie in gevaar gestel wanneer jy moet uitswaai vir ‘n voertuig wat op enige plek skielik voor jou stop, of rustig in die fietslaan staan en wag om iemand op te laai nie. 

Meer fietspaaie in die dorp – wat nie bloot as nagedagte met ‘n lagie verf op die besige pad aangedui is nie – sal dit ook veiliger maak. (Sommer net ‘n ander opmerking: soms ry ek wel op die sypaadjie omdat dit veiliger voel in spitsverkeer, maar dan besef ek ook hóé onvriendelik baie sypaadjies in die dorp en op kampus is vir rolstoelgebruikers, mense wat blind of andersins siggestremd is, en ouers met stootwaentjies…)

Ek dink ook ondernemings in die middedorp kan in samewerking met die munisipaliteit spesiale afslag aanbied vir fietsryers.

Fietsportret/Cycle Portrait: Org Groeneveld (ingenieur)

1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

My eerste herinneringe sluit fietsry in, ja ek ry nog altyd fiets! Behalwe vir skool en sport en koerante aflewer, het ons fiets gery vir plesier, kattekwaad en selfs in wedrenne. Toe ek in Kaapstad gebly het, het ek stasie toe gery van die Tuine en na die Waterfront toe ek daar gewerk het. Niemand “bum” ooit ‘n geleentheid nie, maar jy kom nog steeds oral waar jy wil wees.       

2. Hoe het dit jou lewe verander?

Wanneer jy fiets ry, is die frustrasiefaktor zero. Dit is nes vlieg: jy ruik die blomme en nat gras en rivierwater. Dit verander nie my lewe nie maar vul dit aan, want ek doen dit in elk geval. “Omring jouself met die mooi en …” is maar een van etlike aanhalings wat presies sê waaroor dit gaan. Dit is waaroor Stellenbosch gaan, daar is geen beter plek om jou dorp te geniet as op ‘n fiets nie, die intensiteit is net meer. Continue reading Fietsportret/Cycle Portrait: Org Groeneveld (ingenieur)

Fietsportret/Cycle Portrait: Ralph Pina (IT director, University of Stellenbosch, 60)

Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Ten minste 25 jaar. As skoolseun het ek elke dag 5 km skool toe en 5 km huis toe gery. Dit was tussen 52 en 42 jaar gelede.

  1. Hoe het dit jou lewe verander?

Gee mens tyd om te dink, asem te haal, om rond te kyk, om minder gestres te wees. Maar dit was amper altyd so.

  1. Hoe ver ry jy elke dag?

So 10 km, hang af hoeveel vergaderings ek moet bywoon.

  1. Vertel ons meer van jou fiets

Dis ‘n Rocky Mountain 29er, “single suspension with panniers”. Die fiets toer lekker op grondpaaie ook.

  1. Do you have any advice for people who would like to cycle to work?
  • Don’t cycle at peak times.
  • Always watch a driver’s eyes; make sure they see you.
  • Ride assertively. Make a driver’s mind up for him or her.
  • Force drivers to stop at crossings such as the Merriman circle. Educate them by asserting priority and cyclist rights.
  • Demand that businesses provide racks if they want your business.
  1. How can Stellenbosch improve cycle infrastructure and how can we make our town more cycle friendly?
  • Open Jan Marais Park as a thoroughfare for cyclists i.e. open the eastern gate again.
  • Allow cyclists to cycle both ways in one-way streets as a general rule. Allow cyclists to turn left at red lights.
  • More modern cycle racks in more locations, especially at Simonsrust.
  • Limit cars on central campus by closing streets at certain times, traffic calming. Make it unpleasant for students to drive around campus.
  • Safer and special crossings of the Somerset West road at Die Boord and Merriman.
  • Create protected bike lanes on main thoroughfares such as Merriman-Martinson.
  • Be harsh on drivers who park on bike and pedestrian paths. This makes me mad!

 

Fietsportret: Paul van Woudenberg

  1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Al 33 jaar, vandat ek ’n student was. 

  1. Hoe het dit jou lewe verander?

Ek doen dit nog altyd, so my lewe het nie verander nie 🙂

  1. Hoe ver ry jy elke dag?

Seker so 5km in die dorp rond.

  1. Vertel ons meer van jou fiets (e)

My dorpsfiets is ’n 1992 Specialized Stumpjumper Comp wat deur die jare ’n klomp “upgrades” gehad het. Dit is tans ’n 1×8 rat-fiets met die oorspronklike XT thumbshifters, Spank Tweet downhill handlebars, ’n Topeak-rak (om kinders te karwei) en ’n Spur Cycles-klokkie. 

  1. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Wees sigbaar en maak jou bedoelings duidelik aan die verkeer rondom jou. Neem jou plek op die pad, maar laat ruimte vir karre waar jy kan. Moenie kwaad word vir verkeer nie: jy hardloop met die bulle soos in Pamplona. Die bul maak wat hy wil. Voetgangers kry altyd voorkeur bo fietse.

  1. Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Meer fietspaaie is altyd beter. As dit kan, onderskeid tussen stap- en fietspaaie op plekke wat baie gebruik word (soos reeds in Dorpstraat gedoen is). Bou dalk ’n parkeergarage buite die dorp met plek om fietse veilig te stoor. Maak dit gratis as mense van daar per fiets na hul bestemming in die dorp toe ry. Fietse kan ook van daar uitverhuur word. Sluit dalk ’n paar paaie (Kerkstraat?).

Fietsportret: Die Morris-gesin ry Stellenbosch plat op hul fietse

Annelise Willems

Wim en Francia Morris en hul  drie kinders is fietsryers. Wanneer mens met Francia en haar kinders gesels, is dit duidelik dat hulle fiets ry omdat hulle dit geniet. Mamma Francia sê sy ry al  fiets van sy ‘n kind was.  Haar  kinders het sy ook op fietse groot gemaak. Sy het dikwels met een, of selfs  twee kinders op haar fiets gery deur Stellenbosch. Soms was dit om een van die kinders te begelei skool toe, of  andersins net om die kleuters by die skool te kry.

Francia het verskillende fietse. Sy het ‘n ou Trek-bergfiets wat dateer van haar man Wim se studentedae. Dit is haar “dorpfiets”. Dié fiets is al sowat 20 jaar oud.  Sy het ook ‘n lekker bergfiets vir in die veld ry.

As mens Francia vra hoekom sy fiets ry, is haar antwoord gou dat sy ry vir haar plesier. As kind het dit vir haar vryheid en onafhanklikheid gegee. Sy kon op haar eie rondbeweeg en by maats uitkom. Nou is dit vir haar heerlik om te sien hoe haar kinders dieselfde dinge as sy geniet. Hulle hou daarvan om fiets te ry in die natuur, en dit gee vir hulle as gesin  tyd om  saam te wees.

Hoe het Francia haar kinders padveilig gemaak? Sy voel sterk dat  kinders nie net gelos kan word op Stellenbosch om self hul weg op fietse te vind nie. Hulle moet geleidelik geleer word. Haar kinders het eers saam met haar op haar fiets gery. Daarna het sy die kinders begelei na waar hulle moes gaan.  Sy en Wim het hul kinders die betekenis van padtekens geleer. Só het die kinders deur hul ouers se voorbeeld geleer hoe die verkeer en padreëls  werk.

Hulle sorg dat hul kinders goed sigbaar is. Dis ook veiliger vir jong  kinders om in groepe saam met ‘n volwassene te ry totdat hulle paaie en die padtekens ken. Nadat Cebella  (10 jaar oud ) die pad skool toe leer ken het, het haar ouers agter haar aan gery tot by die skool met hul motor. Sy mag eers aan die einde van haar laerskoolloopbaan alleen fiets ry skool toe. Dit is iets waarna hierdie pragtige dogtertjie baie uitsien.

Dinge wat vir die jong fietsryers moeilik is, is onderbroke sypaadjies met geen op- of afryplek vir fietse nie, asook voertuie wat die  snelheidsgrens oortree en jaag in nou strate waar daar nie veilige sypaadjies vir fietsryers is nie.

Cebella (10 jaar oud) , Jeffrey  (8 jaar oud) en Alettie (6 jaar oud ) het al drie hul eie redes hoekom hulle van fietsry hou. Cebella sê sy ry vir die lekkerte en sy raak nie so moeg soos wanneer sy stap nie. Jeffrey hou daarvan om voor die familie of sy maats uit  te ry en ruwe paadjies aan te durf. Alettie hou ook daarvan om vooruit te ry. Selfs ‘n harde val van die smal sypaadjie af in Noordwal-Oos het haar nie afgeskrik nie.

Die gesin het pragtige foto’s van fietsry-uitstappies en hou  daarvan om hul kinderpartytjies te hou langs die Eersterivier of in die veld. Al hul maats moet eenvoudig met hul fietse saamry sulke tye.

Francia is dankbaar dat die dorp al meer fietsryers in ag neem. Baie het al verbeter ten opsigte van gemak en veiligheid vir fietsryers.  Dit is vir haar heerlik dat fietsryers nie na parkering hoef te soek of soos motorbestuurders in lang rye  hoef te wag nie.  Sy sal  ook daarvan hou as  dorps- en bergfietsryers hul fietsklokkies gebruik om voetgangers te waarsku wanneer hulle hul nader.

Dankie Francia en jou kinders vir jul tyd om oor fiets ry te gesels. Veilig ry!

 

Fietsportret: Marius Smith

Marius is ‘n werknemer by Westside-Woonstelblok in Markstraat, Stellenbosch. Hy woon in Cloetesville in Olifantstraat.

Onderhoud en foto: Donna Blagus

  1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Om eerlik te wees ek kan nie eers meer onthou nie,  maar ek ry al verskriklik lank. As ek moet skat sal dit langer as 20 jaar wees wat ek al my fiets gebruik as vervoermiddel.

  1. Hoe het dit jou lewe verander?

Wel, in dié sin dat ek baie kan sien met my blote oë en dinge kan aanskou. En dit het my lewe so verander dat dit ook my gesondheid bevoordeel het.

 Hoe ver ry jy elke dag?

Ek ry so 15 minute met my fiets werk toe van die huis af. As ek gestap het, sou dit my 30 minute geneem het om van my huis af tot by my werk te kom. Dis baie vinniger om met my fiets te ry as om te stap.

  1. Vertel ons meer van jou fiets

Wat my fiets betrref, omdat ek so afhanklik is van my fiets, want hy bring vir my van een plek tot waar ek wil wees, kyk ek na hom om soos enige ander mens sou kyk na hul motor as vervoermiddel. Ek gee daarom baie aandag aan my fiets in die sin dat as iets benodig word om my fiets in stand te hou, sal ek uit my pad uit gaan om dit reg te stel. My fiets is vir my van kardinale belang, want ek het nie ‘n motor nie, maar al kry ek die kans om op te gradeer na ‘n motor toe sal ek steeds nie afwyk van my fiets af nie.

  1. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe wil ry?

As ek vir hulle enige raad kan gee, kan ek net raad gee wat fietsry persoonlik aan my doen. Daa’rs ‘n hemelsbreë verskil tussen fiets ry en om met jou motor te ry. Ja, altwee is baie gevaarlik, maar fietsry is vir my meer opwindend, want jy is meer in die natuur en om en tussen mense. En jy kan ook gouer ontsnap as daar ‘n gevaar is.

  1. Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch?

Eerlik gesproke, vir die lang tyd wat ek al fiets ry, ry ek nie net werk toe met my fiets nie , maar naweke gebruik ek ook my fiets en sal selfs partykeer tot by die Strand ry.  Wat ek kan sien wat fietsry-infrastruktuur betref,  sal ek dit eerlikwaar waardeer as mense wat in spitsverkeer in hul motors ry bietjie meer spasie  vir die fietsryers gee op die pad. Staanplek en ryplek is van kardinale belang vir ‘n fietsryer, net soos ‘n motor parkeerplek en bane het, het ‘n fietsryer ook parkeerplek en bane nodig.

Pedro Louw (tuinier en nutsman)

 

Onderhoud en foto: Annelise  Willems

1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk toe?

Ek  ry nou vier jaar lank amper elke dag fiets werk toe. Vroeër jare het ek ook fiets gery, maar net soms. Nou ry ek elke dag. Ek ry net partymaal taxi.

2. Hoe het dit jou lewe verander?

Dit  het my lewe wonderlik verander. Ek ry die fiets vir die ekstra  inkomste. As ek fietsry, spaar ek geld. Die verandering kom goed te pas. Daar is vrede in die huis, want die “budget” werk beter uit. Vrydag kan ek daai geld wat ek spaar met my fietsry, net so vir my vrou gee vir die huishouding. Dit kan dan vir die gesin gaan. As dit reënerig is, kan ek besluit of ek die taxi wil vat. En fietsry hou jou gesond ook!

3. Hoe ver ry jy?

Ek ry van  Kylemore af tot by Stellenbosch. Ander dae ry ek van Kylemore tot Somerset-Wes en  Woensdae tot in Kuilsrivier. Soms as die reën my vang as ek huis toe ry van die werk af, druk ek deur. Nat is nat. Dan voel ek vrede. Mens voel weer soos toe jy klein was en in die water gespeel het. Daai tyd wou jou ma jou uit die reën hê! Maar dit kan lekker wees. Mens moet tog by die huis kom. Ek dink ook aan die geld wat ek spaar.

4.Vertel ons meer van jou fiets.

Ek ry ‘n resiesfiets. Ek het hom gekoop by dr Viljoen van Kuilsrivier. Hy ry ook fiets werk toe. Ek werk al vier jaar by hom. Wat my fiets spesiaal maak, is dat hy ‘n spieëltjie het. ‘n Spieëltjie is baie belangrik wanneer mens op die pad ry. Jy kan sien of karre op jou af jaag wanneer jy in die geel streep ry en dan kan  jy padgee. Jy hoef nie om te kyk en só dalk jou balans  verloor  nie. Jy kan fokus op die pad voor jou. ‘n Klokkie is ook belangrik.

5. Het jy raad vir mede-fietsryers wat wil werk toe ry?

Baie mense praat met my wat wil ry. Party wil saam met my ry, maar ons werk nie op dieselfde plekke nie. Ek sê hulle moet ry. Dis goed vir hulle, vir hul gesondheid. Ek dink só: los  eerder die karre en vat die fiets. Hulle is al te gewoond aan die karre.

6. Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Dis die karre en die taxi’s…. hulle moet versigtig wees. Oppas vir fietse in die geel streep. Moenie daar ry nie. Taxis moet nie net voor fietse stop of sommer hul deure oopgooi nie. Hulle moet uitkyk vir fietse en motorfietse! Maar dit sal goed wees as meer mense fietsry.