Vandat ek kan onthou, ry ek al fiets. Wat ‘n bevryding om net die wiele te laat draai, ‘n lekker bries deur die hare te voel en verby al die motors te kan flits in die sonlig na ‘n mens se bestemming toe.
As kind en tiener was fietsry skool toe soms vir my lastig, want die sykouse het dikwels vasgehaak êrens en my skool rok gewapper in die wind. Nietemin het dit my nie afgesit nie, ek was steeds een van die min meisies wat skool toe fiets gery het. Meestal was ek al amper tuis en in die swembad teen die tyd dat sommige maats se mammas eers opgedaag het om hulle per motor op te laai.
Tydens my studentejare aan die Universiteit van Stellenbosch het ek die fietsry terdeë geniet. Stellenbosch is ideaal vir die fiets, omdat dit so lekker plat en boomryk is.
Later toe ek werksaam was in Kaapstad het my rooi Du Toit-fiets my geliefkoosde vervoermiddel geword. Teen die berg af werk toe in 10 minute het ek lekker vars en vroeg by die werk aangekom. Vroegoggend deur die Kompanjiestuin is die lug gevul met lippe aflekgeure van croissants en vars koffie. My bestuurder by my werk was ten gunste van fiets-pendel, gevolglik het ons ons fietse binne-in die gebou parkeer. Die Kaapse suidoos het my soms gelooi oppad huistoe, maar ek het altyd gevoel dat al die dag se uitdagings en probleme sommer van my af waai voor ek my voete by my voordeur insit. Die fiets het my ook die vryheid gegee om die druk stadsverkeer te klop om te gaan swem in Seepunt. Soms het ek my fiets op die My-City bus gelaai as die kwik in die hoe dertigs klim tot bo op Kloofnek, om anderkant weer af te seil na die koue waters van die Atlantiese oseaan.
Tans woon ek in die fietsparadys van Nederland by Weesp, net suid van Amsterdam. Soms gaan al die kilometerslange fietspaaie my verstand te bowe. Die fiets-infrastruktuur hier is werklik uit die boonste rakke. Ek ry daagliks fiets op my eie of met een of twee van my kinders, onderneem fiets-familie-uitstappies, of ‘n vinnige ritjie Amsterdam toe. Soms as dit 4 grade is (dikwels) en ek is knus in die huis, moet ek soek vir innerlike motivering om nie met die kar/trein/voet die tog aan te durf nie. Ek neem 99 persent van die tyd my fiets en is nooit spyt nie. Fietsry maak my gelukkig!
Die drie hoof-voordele van fietsry hier teenoor in Stellenbosch is:
- Die fiets word heeltemal uit die hoofstroom-verkeer verwyder in Nederland. Motors en fietse bly ‘n gevaarlike kombinasie en in Kaapstad het ek ‘n paar noue ontkomings gehad met ongeduldige bestuurders. In Nederland is die fiets-infrastruktuur van so ‘n aard dat mens orals omtrent op ‘n fietspad is met ‘n 1m-skouer van gras/sypaadjie tussen die fietsryer en die motorverkeer.
- Al die verkeersligte is aangepas met ‘n fietsteken. Wanneer mens die knoppie druk, word die lig binne sekondes rooi vir karre en groen vir die fiets. Sulke klein aanpassings verkort die fietspendelaar se tog en maak die motorbestuurder s’n effe langer. Stellenbosch sal kan baat hierby en natuurlik ook by meer fiets-spesifieke paadjies.
- Hier in Nederland is ‘n elektriese fiets-ontploffing. Ek was voorheen onder ‘n wan-indruk dat almal in Nederland fietsry en topfiks is. Dit is ongelooflik hoe die efiets mense meer opsies gee vir langer togte, sowel as bejaardes langer die geleentheid bied om per fiets hul bestemming te bereik. Beslis tog steeds lekkerder en gesonder as enige alternatiewe!
1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?
Vandat ek kan onthou: skool, universiteit, werk en dorp toe.
2. Hoe het dit jou lewe verander?
Minder pad-frustrasie, beter fisieke kondisie (fiksheid), meer dikwels effens gesweet (!), maar met ‘n glimlag op my gesig
3. Hoe ver ry jy elke dag?
Seker gemiddeld so 5 km
4. Vertel ons meer van jou fiets
Ek het tans ‘n Gazelle-damesfiets waarop ek lekker regop kan sit. Ek moes die fiets uit noodsaak kry toe ek hoog swanger was en nie meer my been oor my bergfiets se saal kon swaai nie.
5. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?
Geniet dit! Dis fantasties! Belê in goeie beligting vir jou fiets en ‘n helder kopflits vir die winter. Probeer altyd fietsry by die werk bevorder deur aansoek te doen vir storte en veilige fietsparkering by die kantoor.
6. Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?
- Reeds hierbo beantwoord.
- Goeie veilige fiets-infrastruktuur in veral informele behuisingsgebiede,, byvoorbeeld vanaf Kayamandi, en dan ook van al die buitewyke van die dorp , byvoorbeeld Cloetesville/Welgevonden, na die middedorp is noodsaaklik.