Beswaar van Stellenbosch Fietsry teen die 2020/21 Munisipale begroting

Dawid Botha, voorsitter van Stellenbosch Fietsry, het op 6 Mei hierdie brief aan die Munisipaliteit gerig en die volgende beswaar aangeteken.

Dit is met groot teleurstelling dat ons weer moet verneem dat daar feitlik geen geld virdie aanstaande boekjaar toegewys is aan geriewe vir die bevordering van veilige fietsry op Stellenbosch nie, terwyl miljoene rande begroot word vir sypaadjies.

Ons is nie teen die verbetering van sypaadjies nie, maar ons vra vir ‘n  meer regverdige verdeling van fondse.

Daar is ‘n dringende nood vir veilige fietsryroetes in ons hele dorp. As organisasie kry ons gedurig versoeke vir meer veilige fietspaaie.

Daar is ‘n goeie en goedgekeurde Fietsplan wat in 2015 deur die Raad aanvaar is. Die plan stel ook stapsgewys voor hoe die plan uitgevoer moet word.

Dit het nog nie gebeur nie!

Ons versoek is dus nie in die lug nie, maar volgens ‘n deeglik uitgewerkte plan.

Die Fietsplan bepaal ook prioriteite wat ons as Stellenbosch Fietsry al meermale met die Burgemeester, Burgemeesterskomiteelid vir Infrastruktuur, die Direkteur Infrastruktuur en die Hoof: Paaie en Stormwater bespreek het.

Die plan het voorstelle vir veilige fietsry vir feitlik elke straat/pad in die breër gemeenskap van Stellenbosch – beslis nie net vir die middedorp nie!

Soos met sypaadjies, maak inwoners van alle gemeenskappe gebruik van fietsgeriewe, en is Stellenbosch meestal onveilig vir kwesbare fietsryers, veral diegene wat na hul werk en ander bestemmings pendel.

Ons versoek is dus dat u die voorstelle soos vervat in die Fietsplan aanspreek, en beduidend aanspreek aangesien fietsryers saam met voetgangers die mees kwesbare gebruikers van ons paaie is.

Met dank

Dawid Botha

Voorsitter: Stellenbosch Fietsry