Elbé van Heerden het maar skaars ‘n maand gelede begin fiets ry werk toe. Sy was jare lank ‘n joernalis, en ook ‘n paar jaar werksaam by die Eikestadnuus, maar werk tans by Basic Bistro in Kerkstraat. As sy nie werk nie, lees sy “al die boeke, verken die plaaslike berge en drink baie wyn”.
1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?
Ek het so ‘n maand terug ‘n fiets gekoop. Dit was al lankal die plan, maar ek het uiteindelik een gekry wat binne my prysklas is. Hy is nie super-spoggerig nie, maar hy bring my waar ek wil wees.
2. Hoe het dit jou lewe verander?
Behalwe vir die vrees dat my fiets gesteel gaan word, het ek weke laas met my kar gery. Die verkeer maak my nog baie senuweeagtig. Ek het as ‘n kind leer fietsry op die plaas waar karre nie juis ‘n probleem was nie. Hier is ten minste nie so baie dorings soos in die Karoo nie!
3. Hoe ver ry jy elke dag?
Tussen 3-5 km, afhangend van of ek werk of gym. Ek is nog bietjie bewerig. Die sêding dat dit so maklik soos fietsry is, is nie op my van toepassing nie!
4. Vertel ons meer van jou fiets.
Dis ‘n baie ou Diamondback-bergfiets, bietjie geroes om die kante met ‘n “geeky” staander en om een of ander rede vol advertensies. Dit lyk asof Katrientjie ‘n lang lewe gehad het voor sy by my uitgekom het.
5. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?
“Moenie ‘n kar omry nie” – in my pa se woorde.
6. Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?
Die meeste motoriste is meer bewus van fietsryers as voetgangers, in my opinie, maar die strate is baie nou. Die sypaadjies is darem wyd en maklik om te navigeer (sodra die vesel klaar gelê is). Ek probeer by strate (soos Ryneveldstraat) hou wat fietslane het.
Hier is Carinus Lemmer se raad in dié opsig: kry ‘n roete waar jy veilig voel. Soms is dit bietjie verder maar die rit is die moeite werd.
Ek moet ook noem dat die plaaslike fietsry-gemeenskap ongelooflik is. Deur bietjie rond te vra het ek uitgekom by Tyl Willems wat vir my ‘n stel pedale gegee het toe een van myne gebreek het. En hy het dit sommer vir my opgesit ook. Ek is eindeloos dankbaar vir sulke goeie mense en so bly om deel te wees van dié groep mense – oftewel sodra ek my fietsry-voete vind.