Dit was inderdaad ‘n ongewone jaar. Ons het goed afgeskop, en met die inperking het ons voortgegaan met ons weeklikse vergaderings op zoom.
Ons het die jaar op 23 Januarie begin as aktiewe deelnemers aan ‘n werkswinkel by die US se Fakulteit Ingenieurswese om leerders wiskunde en fisika te leer met die fiets as leermiddel. Leerders van skole in die Skiereiland en Stellenbosch het deelgeneem en dit was deel van ‘n projek tussen Stellenbosch Fietsry en die Innovasiefabriek (Innovationsmanufaktur) van prof Eckehard Moritz in München. Kontak met prof Moritz gaan steeds voort.
Op 1 en 2 Februarie het ons die Internasionale Kantoor van die Universiteit Stellenbosch gehelp met hul verwelkomingsprogram deur oor dié naweek sowat 130 internasionale studente in groepe op fietsritte deur die dorp te neem.
Een van ons grootste teleurstellings die afgelope jaar was dat die Munisipaliteit steeds nie geld begroot het om die Fietsplan van 2015 te begin uitvoer nie en ook geen geld vir enige fietsryprojekte begroot het vir die volgende jaar nie, selfs nie veel instandhouding van bestaande fietsbane sal gedoen word nie, lyk dit vir ons.
Ons het gehoop dat die Munsipaliteit die grendeltyd en pandemie sou benut deur kits-fietsbane uit te rol en meer geld sou bestee aan fietsry-infrastruktuur soos in ander lande en stede, veral om distansiëring te bevorder, maar ons versoeke hieroor is geïgnoreer.
DIt is ons oortuiging dat veilige fietsry net werklik moontlik sal wees en mense net in groter getalle sal fietsry as daar ‘n aaneengeskakelde fietsnetwerk deur die hele dorp is. Tans is daar net ‘n gebroke netwerk van gedeelde NMT-paaie of onveilige geverfde fietsbane wat doodloop. Andersins moet die pendelryer maar ons nou strate en druk verkeer trotseer of selfs vir sy veiligheid op sypaadjies ry.
Die Fietsplan stel so ‘n netwerk voor, maar daar kom net niks van nie.
Die Fietsplan van 2015 prioritiseer fietsinfrastruktuur-projekte. Ons is nietemin deur die Munisipaliteit gevra om prioriteite te identifiseer. Ons het reeds in 2019 kitsprojekte en langtermynprojekte geïdentifiseer, maar ons insette kry geen aandag nie. Ons het hoegeneemd geen reaksie gekry nie.
Ons is in kennis gestel dat die teer van sypaadjies deur die hele Munisipale gebied prioriteit moet geniet as NMT-projek. Natuurlik is dit belangrik, maar fietsryers se veiligheid, byvoorbeeld oor die groot kruisings by Idasvallei, Cloetesville en Die Boord, is net so belangrik!
Die Munisipaliteit het besluit dat die Fietsplan en die NMT-plan gekombineer en uitgebrei word oor die hele munisipale gebied. Ons het voor die grendeltyd met die konsultante vergader om insette te lewer en ‘n vrugbare gesprek is gevoer. Ons het die konsultante ook begelei op ‘n fietsrit deur ‘n deel van dorp.
Weens die Inperking is hierdie deelnemingsproses gestaak, maar is hervat met ‘n vergadering op 28 September.
Die konsultante se verslag is opgestel en oorhandig, maar ons wag nou reeds geruime tyd op die Munisipaliteit se kommentaar op die verslag.
Stellenbosch Fietsry het deur die jaar aktief deelgeneem aan die vergaderings van die Mobiliteitsforum, al was dit dan grotendeels op zoom.
As gevolg van die pandemie, is besluit om nie vanjaar ‘n Jaarvergadering te hou nie.
Die elektroniese weergawe van ons Fietskaart, wat steeds gewild is onder besoekers en inwoners aan die dorp, word tans weer opgedateer, aangesien daar altyd veranderinge in die dorp plaasvind en ons altyd verbeteringe kan aanbring. Die bygewerkte e-kaart sal hopelik voor middel-2021 beskikbaar wees.
Dit is vir ons verblydend dat die Provinsie na ‘n aantal probleme die NMT-pad na Jamestown voltooi het. Dit is net jammer dat hierdie belangrike NMT-pad langs die R44 nie oral goed onderhou word nie. Sekere vervalle dele is mooi herstel met ‘n nuwe sementoppervlak, maar op ander plekke raak dit al hoe meer toegegroei en smaller.
Die toenemende aantal nuwe glybane op die R44, soos by die ingang na Tegnopark, wek kommer, want daar word dit nou beslis onveilig vir fietsryers wat in die rigting van Stellenbosch ry. Fietsryers word net nie in die pad-ontwerp in ag geneem nie. Daar is net aan motorvoertuie gedink.
Dit is vir ons steeds ‘n groot bron van kommer dat die Munisipliteit min geld begroot om NMT-geriewe te onderhou, want sekere NMT-paaie mag deur fietsryers benut word. Die NMT-pad langs George Blake-laan, wat Kayamandi en Plankenbrug met die dorp verbind, is wel herstel na ontwrigtende bouwerke en diefstal van plafeistene.
Om af te sluit. Ons bly teleurgestel dat oor die afgelope vyf jaar bitter min gedoen is om die Fietsplan uit te voer. Ons vertrou dat die nuwe NMT-beleid en die gekombineerde NMT-plan sal lei tot ‘n begroting wat hierdie plan sal begin uitvoer.
Ons bly vas oortuig dat fietry een van die goedkoopste, gesondste en groenste maniere is om die verkeersdruk en parkeerprobleme op Stellenbosch te help verlig en ons bly verbind tot die ideaal om veilige fietsry, in hoofsaak pendelry, binne die bereik van die meeste Stellenbossers te bring.