Uiteindelik het daar gemoedsrus gekom vir fietsryers wat bang is hulle ysterperde word in die middedorp gesteel.
Juan Mason, eienaar van Mason’s Bike Inn in Beyerstraat, sê lank reeds: “Dit help nie julle bou fietspaaie as die mense nie hul fietse veilig kan toesluit nie.”
En nou het hy self met ‘n plan vorendag gekom: Hy gaan ‘n deel van sy perseel beskikbaar stel vir fietsparkering teen R10 per dag, op weeksdae van 0830 tot 1730.
“Fietsdiefstalle in die Stellenbosch, maar veral in die middedorp, het baie erg toegeneem die afgelope tyd, sodat mense nie met hul fietse dorp toe wil ry nie, en ons wil juis hê meer mense moet fietsry dorp toe”, volgens raadsheer Dawid Botha.
Met hierdie nuwe plan kan mense nou met gemoedsrus werk toe ry of kom inkopies doen in die middedorp en selfs ‘n paar ure gaan fliek sonder die vrees om terug te kom na ‘n halfgesteelde fiets of ‘n leë paal waar hul fiets vasgesluit was, sê Botha.
Die nuwe inisiatief van Juan Mason, wat ook ‘n duidelike kenteken vir sy fietsparkeerplek laat ontwerp het, word heelhartig gesteun deur Stellenbosch Fietsry, die maatskappy sonder winsbejag wat fietsry in die hele munisipale gebied bevorder en ontwikkel.