Onderhoud en foto: Annelise Willems
1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk toe?
Ek ry nou vier jaar lank amper elke dag fiets werk toe. Vroeër jare het ek ook fiets gery, maar net soms. Nou ry ek elke dag. Ek ry net partymaal taxi.
2. Hoe het dit jou lewe verander?
Dit het my lewe wonderlik verander. Ek ry die fiets vir die ekstra inkomste. As ek fietsry, spaar ek geld. Die verandering kom goed te pas. Daar is vrede in die huis, want die “budget” werk beter uit. Vrydag kan ek daai geld wat ek spaar met my fietsry, net so vir my vrou gee vir die huishouding. Dit kan dan vir die gesin gaan. As dit reënerig is, kan ek besluit of ek die taxi wil vat. En fietsry hou jou gesond ook!
3. Hoe ver ry jy?
Ek ry van Kylemore af tot by Stellenbosch. Ander dae ry ek van Kylemore tot Somerset-Wes en Woensdae tot in Kuilsrivier. Soms as die reën my vang as ek huis toe ry van die werk af, druk ek deur. Nat is nat. Dan voel ek vrede. Mens voel weer soos toe jy klein was en in die water gespeel het. Daai tyd wou jou ma jou uit die reën hê! Maar dit kan lekker wees. Mens moet tog by die huis kom. Ek dink ook aan die geld wat ek spaar.
4.Vertel ons meer van jou fiets.
Ek ry ‘n resiesfiets. Ek het hom gekoop by dr Viljoen van Kuilsrivier. Hy ry ook fiets werk toe. Ek werk al vier jaar by hom. Wat my fiets spesiaal maak, is dat hy ‘n spieëltjie het. ‘n Spieëltjie is baie belangrik wanneer mens op die pad ry. Jy kan sien of karre op jou af jaag wanneer jy in die geel streep ry en dan kan jy padgee. Jy hoef nie om te kyk en só dalk jou balans verloor nie. Jy kan fokus op die pad voor jou. ‘n Klokkie is ook belangrik.
5. Het jy raad vir mede-fietsryers wat wil werk toe ry?
Baie mense praat met my wat wil ry. Party wil saam met my ry, maar ons werk nie op dieselfde plekke nie. Ek sê hulle moet ry. Dis goed vir hulle, vir hul gesondheid. Ek dink só: los eerder die karre en vat die fiets. Hulle is al te gewoond aan die karre.
6. Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?
Dis die karre en die taxi’s…. hulle moet versigtig wees. Oppas vir fietse in die geel streep. Moenie daar ry nie. Taxis moet nie net voor fietse stop of sommer hul deure oopgooi nie. Hulle moet uitkyk vir fietse en motorfietse! Maar dit sal goed wees as meer mense fietsry.