Fietstoerisme is die tema van vanjaar se Bosfietsberaad van 2 tot 4 Desember en die hoofspreker is Minister Alan Winde, Wes-Kaapse Minister vir Ekonomiese Geleenthede.
Stellenbosch is tans een van die gewildste bestemmings vir fietsryers en die konferensiegangers sal soos in die verlede weer ‘n paar mooi roetes verken tussen die besprekings en aanbiedings.
Minister Winde, self ‘n kranige fietsryer, sal tydens die dinee op Saterdagaand praat oor die nuutste verwikkelinge in Fietstoerisme.
Die konferensie begin af met ‘n skemeronthaal om 17:00 op Vrydagaand 2 Desember in die Erfurthuis in Reyneveldstraat. Daarna sal daar ‘n aanbieding oor fietstoerisme ter voorbereiding van Fietstoerisme-maand op Stellenbosch in Maart aanstaande jaar wees. Dit word gevolg deur die kort jaarvergadering van Stellenbosch Fietsry.
Op Saterdagoggend 3 Desember begin daar om 08:30 ‘n Rivierrit van die brug by Aan-de-Wagenweg al langs die Eersterivier tot by die Hangbrug by Vergenoeg. Dr Richard De Villiers sal die deelnemers halfpad by die Landbousaal tydens koffie toelig oor die Stellenbosch Trail Fund se nuwe en beplande roetes in Koloniesland, langs die Eersterivier en in die landelike ongewing. Die rit eindig by Lanzerac waar Elmarie Rabe, hoof van die Stellenbosch Wynroetes, sal praat oor hoe fietstoerisme aansluit by wyntoerisme.
Op Saterdagaand om 19:00 is die dinee by die Blue Crane & the Butterfly in Dorpstraat . Dit is ook waar Minister Winde sal praat en die bespreking sal lei oor ontwikkelinge in fietstoerisme.
Op Sondagoggend 4 Desember kom almal om 09:00 bymekaar vir koffie by Häzz in Reyneveldstraat en vertrek daarna op ‘n rustige rit vir die hele gesin vir ontbyt op die Blaauwklippen-wynplaas.
Die konferensiefooi is R150 per persoon en sluit in die skemeronthaal op die Vrydagaand en die dinee op Saterdagaand sowel as die lidmaatskap van Stellenbosch Fietsry. Die ander geleenthede is vir eie rekening.
Inskrywings het reeds gesluit.
Hou ook ons Facebook blad en Twitter dop vir meer detail.