1. Hoe
lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?
Ongelukkig nog
nie lank genoeg nie, en dit het ‘n Belgiese draai gekos om my by hierdie punt
te kry. In 2018 het ek en my gesin in Leuven gewoon vir navorsing, en danksy
die goeie openbare vervoer het ons besluit om die jaar karloos deur te sien. In
Leuven het ons slegs twee kilometer van die stasie af gewoon en 600m van die
naaste winkels af, maar ná ‘n ruk raak die gestap stasie of kampus toe ‘n berg,
en ek was dankbaar toe ‘n vriend sy plooifiets vir my aangebied het waarmee ek
my reistyd aansienlik kon verkort. Die fiets is toe ook gerieflik ingespan vir
inkopietogte, want jou mandjie kruideniersware raak gou ‘n ton as jy moet terugstap
huis toe. By ons terugkeer na Stellenbosch het ons besluit om ons
fietsrygewoontes so veel as moontlik voort te sit. Stellenbosch is meer
uitgespreid as Leuven (en dis nie so plat nie!), maar ek geniet dit om met my
fiets te ry en kan nie glo dat ek voorheen so vinnig in die kar gespring het
vir kort afstande nie.
2. Hoe
het dit jou lewe verander?
As ek met my
fiets ry, hoef ek nooit soos die Israeliete sewe dae om Jerigo se mure te trek
en op ramshorings te blaas voor ek gelukkig genoeg is om ‘n parkeerplek in die
dorp te kry nie. Ek kan my fiets orals gratis parkeer en by my departement (in die Lettere-gebou op
die kampus) boonop in ‘n fietsloods agter slot en grendel. Dit is seker die
mees voor die hand liggende kwaliteite van my fietsryery.
Ek het ook besef ek koop regtig baie meer oordeelkundig as ek vinnig by die winkel stop op pad terug huis toe: daar is net soveel plek in my fietsmandjie, en my rugsak kan nie oorlaai word nie. Gevolglik ek dink twee maal voor ek iets koop.
In
spitsverkeer ry ek teen my gewone spoed terug huis toe en kom waarskynlik
vroeër by die huis as wanneer ek met die kar sou ry.
As ‘n ma sorg
my fiets ook vir groter vryheid, en dit is miskien die ingrypendste verandering
wat ons nog nie behoorlik omhels het nie. Voorheen was dit te maklik vir die
kinders om ‘n rit hierheen of daarheen te versoek, maar nou lag ek in my mou as
ek laat weet ek is met my fiets in die dorp. Ons kinders word dus ook gedwing
om meer fiets te ry en self meer onafhanklik te wees. Dit is ongelukkig nie
altyd moontlik nie. In die wintermaande was dit maar donker Bloemhof toe in die
oggende en ‘n tjello of viool saam met ‘n yslike skooltas gaan nie goed werk op
ons paaie nie!
3.
Hoe ver ry jy elke dag?
As ek kantoor
toe en terug ry is dit net meer as ses kilometer, maar soms moet ek ander
draaie in die dorp ook ry wat die afstand bietjie rek. Dit wissel tussen 80-100
km per maand.
4. Vertel
ons meer van jou fiets
My fiets
verdien eintlik ‘n storie! In ‘n terloopse gesprek met Patricia Botha het
sy my vertel van haar man, Dawid Botha, se stokperdjie om ou fietse te
restoureer. Hy het my genooi om te gaan kyk na sy fietse, maar nie een van
hulle het (volgens hom) by my gepas nie. Uiteindelik het hy laat weet dat hy
iets vir my opgespoor het: ‘n ou KTM uit Oostenryk wat hy met soveel liefde
gerestoureer het dat ek byna te bang was om daarmee te gaan ry omdat daar stof
op sou kom! Dit is ‘n dorpsfiets, en dit het aanvanklik vreemd gevoel om so
laag en regop te sit as ek ry, heeltemal anders as die bergfietse waaraan ek
gewoond was. Maar nou is dit vir my baie gemakliker as laasgenoemde.
5. Het
jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?
Belê in ‘n
goedkoop dorpsfiets: verminder die kanse
dat dit gesteel sal word.
Toets maar die
verskillende paaie en roetes dorp toe. Sommige is meer fietsvriendelik as ander.
Merrimanlaan is byvoorbeeld effens korter vir my, maar dit voel baie veiliger
om in Victoriastraat te ry.
Gebruik
duidelike handseine om jou intensies aan te dui. Maar selfs dan moet jy steeds
sorg dat motoriste dit gesien het en vir jou toelating maak. Ongelukkig is ons
motoriste nog nie so op fietsryers ingestel nie. Hopelik sal dit verander as
meer mense begin fietsry, die voordele daarvan besef, asook hoe blootgestel ‘n
fietsryer is!
6. Watter
infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons
ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?
Ek sou graag
wou sien dat daar elke 400-500 meter spesifieke sones geskep word
waar taxi’s, Ubers en gewone motoriste kan stop om passasiers op en af te laai.
Sodoende is fietsryers bewus daarvan en word jou lewe nie in gevaar gestel
wanneer jy moet uitswaai vir ‘n voertuig wat op enige plek skielik voor jou
stop, of rustig in die fietslaan staan en wag om iemand op te laai nie.
Meer
fietspaaie in die dorp – wat nie bloot as nagedagte met ‘n lagie verf op die
besige pad aangedui is nie – sal dit ook veiliger maak. (Sommer net ‘n ander
opmerking: soms ry ek wel op die sypaadjie omdat dit veiliger voel in
spitsverkeer, maar dan besef ek ook hóé onvriendelik baie sypaadjies in die
dorp en op kampus is vir rolstoelgebruikers, mense wat blind of andersins
siggestremd is, en ouers met stootwaentjies…)
Ek dink ook
ondernemings in die middedorp kan in samewerking met die munisipaliteit
spesiale afslag aanbied vir fietsryers.